Ek was die hele 15 jaar van die werk aan die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling daarby betrokke as literêre adviseur. Hierdie soort boodskappe wat die vertaling, wat bekend gaan staan as die Bybel 2020, so verdag maak, is onnodig, onvanpas en eintlik skokkend in die kwaadwilligheid daarvan.

Al hierdie bewerings dat God se naam verkleineer word, of met kleinletters geskryf word, is absoluut onwaar. Dat daar iets aan die boodskap van die Bybel afbreuk gedoen word, is net so onwaar. Hierdie vertaling is uit die beste beskikbare oorspronklike bronne gedoen (onder meer van die manuskripte wat by Qumram in 1948 en daarna ontdek is) en die vertaling is deurlopend vergelyk met soveel as moontlik bestaande vertalings.

Daar is gebruik gemaak van ‘n rekenaarprogram van die internasionale Bybelgenootskap wat die vertalers toegang gee tot bykans alle bestaande (ouer en meer resente) vertalings en dus kon die vertalers kyk na alles wat gedoen is in die tale wat hulle ken. Geen vorige vertalings het toegang gehad tot soveel navorsing uit die Hebreeuse, Griekse, en al die Europese taalwêrelde nie. En die navorsing beskikbaar oor die kulturele en religieuse agtergronde, het ook in die afgelope dekades vermenigvuldig.

Ek wil in my hande huil oor hierdie verdagmakery van werk wat gedoen is deur mense wat ontelbare ure met die grootste toewyding en geloofsoortuiging gewerk en gekontroleer en oorgewerk en weer gekontroleer het. Die hele span vertalers en die finale redaksiekomitees het telkens as ‘n span gewerk en niks is aan een mens se eie opinie oorgelaat nie. Hierdie mense is boonop internasionaal erkende Hebraïci en Klassici, gelowige en toegewyde teoloë en kerkmense wat hulle hele lewe aan die bestudering van die Bybel gewy het.

As enigeen meer wil weet, kan julle my maar vra. Ek het meer as 30 jaar lank gestudeer en klasgegee oor die hantering van tekste en ek kon oor 15 jaar geen onderliggende en verskuilde agendas oor bose intensies agterkom nie. Tensy ek kliponnosel is, sou ek tog iewers moes agterkom dat iemand die Bybelse waarhede wil verteken en dit het nie gebeur nie.

Wees dus gerus. Julle sal sien hierdie vertaling is baie noukeurig en verantwoord (met duisende verduidelikende voetnote en registers) en ook talig baie mooi.

'n Laaste gedagte, hierdie aanklagte is so ongegrond en vergesog dat die mense hulle skuldig maak aan laster en as iemand regtig kwaad word, kan hulle regsaksie opneem teen die verkondiging van onwaarhede wat ook as naamskending ervaar kan word.

Prof Heilna du Plooy
20 November 2019

JSN Solid is designed by JoomlaShine.com